skip to content
Subscribe to newsletter Borg 'n kind Jongste nuus Skenkings
Inligting oor vrae wat dikwels gevra word

Kliek op 'n titel om die informasie te sien...

Aanneming en pleegsorgplasing

Kinders by die Durbanville Kinderhuis is tussen twee en 18 jaar oud. Die meeste van hulle het kontak met ouers of ander familielede.

Die Kinderhuis fasiliteer nie aanneming nie. Die Magdalena Huis, 'n ander BADISA-program in Boston, kan voornemende ouers egter met aanneming bystaan. Die kontaknommer is (021) 948 3637 of (021) 949 1656.

Die Durbanville Kinderhuis reël nie pleegsorgplasing nie. Vir meer inligting oor pleegsorgplasing, skakel:

•  Die Departement Maatskaplike Ontwikkeling by (021) 940 7100;
•  Die hoofkantoor van die ACVV in Zonnenbloem by (021) 461 7437; of
•  Kindersorg by (021) 638 3127.

Vorige inwoners by die Durbanville Kinderhuis

Dit is belangrik om daarop te let dat die Durbanville Kinderhuis net met navrae kan help oor kinders wat voorheen by die Kinderhuis gewoon het indien die kind se korrekte naam, van en geboortedatum verskaf word.

Kinders wat voorheen by die Kinderhuis gewoon het, is welkom om die Kinderhuis te besoek en hul lêers te lees. Dit moet egter streng op afspraak met 'n kennistydperk van minstens twee weke geskied. Skakel asseblief die Kinderhuis se maatskaplikewerk-span by (021) 975 6822 om 'n afspraak met 'n maatskaplike werker te maak wat dan die betrokke lêers uit die argiewe sal kry en by die afspraak teenwoordig sal wees. Afsprake kan net tydens kantoorure gemaak word.

Die besonderhede van kinders wat aangeneem is en wie se vanne sedertdien verander het, moet by die registrateur van geboortes en sterfgevalle in Pretoria aangevra word. Die Durbanville Kinderhuis kan ook nie help met die opspoor van broers of susters of kinders wat lank gelede in die Kinderhuis gebly het nie. Om hierdie inligting te bekom, is redelik ingewikkeld aangesien die Kinderhuis dikwels net 'n plasingsadres het waarvolgens hulle kan werk. Jou samewerking en begrip in hierdie verband word waardeer.

Gemeenskapsdiens, studentenavrae en skoolprojekte

Die Durbanville Kinderhuis is baie dankbaar vir die belangstelling van studente en skole en hul entoesiasme om by die Kinderhuis betrokke te raak. Daar is ongelukkig elke kwartaal net beperkte plek by die Kinderhuis beskikbaar. Studente word gevolglik op 'n “eerste daar, eerste gehelp”-grondslag toegelaat. Dié studente wat nie by die Durbanville Kinderhuis geakkommodeer kan word nie, word elders verwys.  Studente is ook welkom en word aangemoedig om die inligtingsessies wat op die laaste Dinsdag van elke maand gehou word, by te woon om inligting vir projekte te bekom. Sien besonderhede van inligtingsessies hieronder.

Inligtingsessies

Om 'n vrywilliger by die Durbanville Kinderhuis te raak, moet belangstellendes 'n verpligte inligtingsessie by die Kinderhuis bywoon op die laaste Dinsdag van elke maand van Januarie tot Oktober om 18:30. Dit is die eerste stap om 'n vrywilliger te raak en almal is by die sessies welkom sonder vooraf bevestiging.

Neem die Durbanville Kinderhuis kinders van alle geloofsoortuigings?

Die Durbanville Kinderhuis sorg vir alle kinders in nood, ongeag hulle godsdiens-agtergrond.

Hoe word kinders tot die Durbanville Kinderhuis toegelaat en word daar vir hawelose kinders voorsiening gemaak?

Kinders in Suid-Afrika wat wees is of deur hul ouers verlaat word, word geplaas by die organisasie wat die beste na die behoeftes van die kind kan omsien. Dit word deur die Suid-Afrikaanse kinderhof bepaal. Die Durbanville Kinderhuis stel egter die Departement Maatskaplike Ontwikkeling in kennis wanneer plek vir kinders by die Kinderhuis beskikbaar raak.

Moet kinders die Kinderhuis op die ouderdom van 18 verlaat?

Voorsorg word getref in die Kinderwet dat jongmense toestemming van die Departement Maatskaplike Ontwikkeling kan kry om onder die sorg van die kinderhuis te bly tot die einde van die jaar waarin die persoon 21 jaar oud word. Die aanpassing tot die Kinderwet gee jongmense die geleentheid om hul opleiding na skool te voltooi in die sorg van die kinderhuis.

Waarom is die Durbanville Kinderhuis volgens so 'n hoë standaard gebou en toegerus?

Nie net voldoen al die geriewe by die Durbanville Kinderhuis aan die minimum vereistes wat in die Verenigde Volke se Konvensie oor Kinderregte bepaal word nie, maar die personeel by die Kinderhuis glo ook daaraan om kinders elke geleentheid te gee om hul volle potensiaal te bereik. Om dit te bereik, word slegs die beste gehalte in alle aspekte van huisvesting tot onderrig gebied. As gevolg hiervan het kinders van die Durbanville Kinderhuis Suid-Afrika selfs al in talle verskillende dissiplines verteenwoordig.

Ontvang die Durbanville Kinderhuis enige bystand van die regering?

Die Durbanville Kinderhuis ontvang 'n regeringsubsidie per capita. Om hierdie subsidie te kan ontvang, moet die Kinderhuis ‘n jaarlikse diensplan inhandig, asook sekere kontraktuele ooreenkomste nakom.

Hoe word versorgers opgelei?

Alle versorgers by die Durbanville Kinderhuis ontvang residensiële opleiding vir 'n tydperk van vier maande voor hulle assistent-versorgers kan word. Slegs na twee tot drie jaar by die Durbanville Kinderhuis asook verdere opleiding en 'n volledige evaluering van hul vermoëns word versorgers die geleentheid gegee om volle verantwoordelikheid vir die kinders by die Kinderhuis te aanvaar.

Waarom is versorgers meestal vrouens in plaas van paartjies wat as ouereenhede kan optree?

Wanneer 'n paartjie in plaas van 'n individu in diens geneem word, is daar 'n groter waarskynlikheid dat die paartjie self hul eie biologiese kinders sal hê wat dan ook by die Kinderhuis gehuisves sal moet word. So 'n situasie sal duur wees vir die Durbanville Kinderhuis en ook die beperkte ruimte vir die kinders in nood beïnvloed. Daar is ook 'n moontlikheid dat die eenheid se “ma” in so 'n situasie voorkeur aan haar eie biologiese kinders sal gee. Dit is belangrik om daarop te let dat die model van die Durbanville Kinderhuis al die afgelope 127 jaar bestaan en resultate het nog nie bewys dat kinders enigsins benadeel is indien hulle deur slegs een ouer grootgemaak is nie.

Word die kinders aan enige manlike rolmodelle blootgestel?

Daar is heelwat manlike werknemers by die Durbanville Kinderhuis. Tans het die Kinderhuis ook 'n manlike bestuurder. Hierdie mans tree as sterk rolmodelle vir die kinders op en help met die holistiese ontwikkeling van die kinders. Die kinderhuis het ook drie manlike kinderversorgers.

Het enige van die kinders by die Kinderhuis vigs?

Die Durbanville Kinderhuis toets nie, en word ook nie toegelaat om kinders vir vigs te toets voor toelating tot die Kinderhuis nie. Sodra die Kinderhuis die kind se wettige voog is, word toetsing net gedoen indien simptome teenwoordig is sodat die kind die beste moontlike mediese behandeling kan ontvang. As voorkomingsmaatreël word versorgers opgelei om alle kinders van die begin van hul verblyf eenders te behandel. 'n Voorbeeld is die gebruik van handskoene te alle tye wanneer wonde behandel word. Dit skakel enige merkbare verskille uit, sou 'n kind 'n positiewe vigs-diagnose hê.

Hoe hanteer die Kinderhuis die huidige globale MIV/vigs-krisis?

Die Durbanville Kinderhuis bedryf 'n reeks gesinsversterkingsprogramme gegrond op die beginsels van gesinsontwikkelingsbeplanning.

Is besoekers welkom by die Durbanville Kinderhuis?

Besoekers is welkom by die Durbanville Kinderhuis. Om ontwrigting van die Kinderhuis se roetine en skool- of sportaktiwiteite tot 'n minimum te beperk, moet reëlings vir besoeke vooraf getref word.

Hoe kan belangstellendes die kinders by die Kinderhuis help?

Die kinders by die Durbanville Kinderhuis het altyd 'n behoefte aan sorgsame individue wat die verantwoordelikheid vir hul welstand nou en in die toekoms kan deel. Alle bydraes maak dit vir die Kinderhuis moontlik om die kinders te help en te onderrig om hulself in die toekoms te help, in plaas daarvan om hulle aan hul eie lot en 'n lewe van hopeloosheid en armoede oor te laat. Bydraes kan op die volgende maniere gemaak word:

  • Maandelikse bydraes deur 'n borg-die-kind-projek;
  • Borgskap van 'n spesifieke projek;
  • Skenkings van enige bedrag; en
  • Erflatings en nalatenskappe.

Kliek hier vir meer informasie aangaande die bogenoemde.