skip to content
Subscribe to newsletter Borg 'n kind Jongste nuus Skenkings
Meer oor ons
 

Cairo2Cape 2012 – Geen plek te ver

'n Droom word verwesenlik vir sewe avontuurliste mans en een dame om op ses motorfietse en twee in lugversorgde gerief oor die lengte van Afrika te toer. Om meer uit te vind oor ons C2C4C
(Cairo2Cape for Chilli) inisiatief kliek
hier.

Ons almal kan 'n verskil in die lewens van getraumatiseerde kinders maak. Baie kinders word verwaarloos en leef in groot gevaar vanweë armoede, misdaad, geweld, dwelmmisbruik en die algemene agteruitgang van morele waardes en gesinslewe in talle Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Die Durbanville Kinderhuis voorsien hierdie kinders van 'n veilige hawe sodat hulle teen fisieke en emosionele misbruik beskerm kan word.

Howe plaas kinders wat versorging en veiligheid nodig het, ingevolge die Kinderwet, in tehuise soos die Durbanville Kinderhuis wat geregistreer is om 144 kinders te huisves, van pasgeborenes tot kinders van 18.

Die Durbanville Kinderhuis sorg al die afgelope 127 jaar sedert sy stigting in 1883 vir kinders in nood. Deur terapeutiese ingryping en hereniging met hul gesinne waar moontlik, word op die versorging, ontwikkeling en rehabilitasie van emosioneel getraumatiseerde kinders gekonsentreer.

Die kinderhuis se regeringsubsidie beloop egter net 32% van hul totale uitgawes en dit is dus vir fondse en skenkings van plaaslike en oorsese gemeenskappe afhanklik.

Die Durbanville Kinderhuis, 'n Suid-Afrikaanse nie-winsgewende organisasie, is 'n program van  BADISA, 'n kerkgebaseerde, nie-winsgewende welsynsorganisasie. BADISA voorsien die Durbanville Kinderhuis dus van professionele bystand asook 'n beleid en riglyne, en verseker so dat die kinderhuis kan voorsien in die immer-veranderende behoeftes van kinders wat versorging en veiligheid nodig het. Die kinderhuis is ook by die Departement Maatskaplike Ontwikkeling geregistreer en dus aan regeringsbeleide en –beginsels onderworpe.

Die kinderhuis bied tans residensiële versorging aan 144 kinders tussen die ouderdomme van twee en 18 vanuit gemeenskappe regoor die Kaapse Skiereiland. Dit word beskou as 'n model vir kinder- en jeugversorging in 'n terapeutiese milieu.

Die kinderhuis bied ook 'n plek van veiligheid vir kinders wat as 'n noodmaatreël uit hul gesinne verwyder is.

Kyk gerus hoe lyk die dienste en programme wat beskikbaar is asook die kinders wat uit hierdie programme voordeel trek om te bepaal hoe jy 'n verskil in die lewens van die kinders by die Durbanville Kinderhuis kan maak. Jy is ook welkom om meer te leer oor waar alles vir Durbanville Kinderhuis begin het en wat hul huidige visie en missie is.

Jy kan betrokke raak deur 'n bydrae te maak - of besoek die Durbanville Kinderhuis (kliek hier vir 'n kaart) om 'n inligtingsessie om 18:30 op die laaste Dinsdag van elke maand vanaf Januarie tot Oktober by te woon. Hierdie sessies bied die ideale geleentheid om spesifieke vrae te vra en is die beste manier om meer oor die kinderhuis te wete te kom.

 

Die Durbanville Kinderhuis, ’n Suid-Afrikaanse nie-winsgewende organisasie, is ’n program van BADISA
(NRO 011 - 891), ’n kerkgebaseerde, nie-winsgewende welsynsorganisasie.