|
Skoolprogram
Kinders by die Durbanville Kinderhuis kom uit baie moeilike omstandighede terwyl sommige ook nie geleenthede vir behoorlike onderrig gehad het nie. Onderbroke of selfs geen skoolbywoning en 'n gebrek aan stimulering het 'n leemte in hierdie kinders se skoolvordering gelaat, met gevolglike leergebreke en 'n gebrek aan motivering. Sommige kinders ondervind skoolagterstande en moet spesiale skole, opvoedingsentrums en programme bywoon wat hierdie leemtes kan hanteer. Skoolsielkundiges en ander professionele praktisyns word betrek om hierdie kinders se spesiale onderrigbehoeftes deur middel van vraelyste, vergaderings en konsultasies te bepaal. Die kinders woon 26 verskillende skole by om in hul verskillende behoeftes te voorsien, wat hoofstroom-, preprimêre, spesialebehoefte-, plaasskole asook skole vir spesiale vaardighede insluit.
Individuele ontwikkelingsplanne word deur onderwysers opgestel en geëvalueer, en gereelde vergaderings vind plaas om doeltreffende kommunikasie tussen personeel by skole en by die Kinderhuis te verseker.
Baie kinders by die Durbanville Kinderhuis woon ondersteuningsklasse by hul skole by. Ses-en-dertig vrywilligers help kinders saans met ekstra klasse en die Kinderhuis hoop om hierdie program uit te brei. Kinders word ook aangemoedig om aan buitemuurse aktiwiteite by hul skole deel te neem.
Lewensvaardigheidsprogram
Elke eenheid van die Durbanville Kinderhuis hou weeklikse vergaderings waartydens kindersorgwerkers en kinders sake bespreek wat hulle belangrik ag. Deur daaglikse gestruktureerde roetines word die ontwikkeling van kinders gerig en leer hulle belangrike lewensvaardighede.
Vergaderings met die projekkoördineerder, vrywilligers en die maatskaplike werkers wat aan die Kinderhuis toegewys is, vind weekliks plaas om aktiwiteite, speletjies, kampe en uitstappies te beplan. Maatskaplike, intellektuele en geestelike ontwikkeling word gestimuleer deur 'n wye verskeidenheid aktiwiteite, groepe, projekte en opleidingsgeleenthede. Die Kinderhuis se gedragskode word gereeld gekommunikeer om so die personeel in staat te stel om aanvaarbare gedrag in kinderhuiseenhede te bewerkstellig.
Deelname aan sport- en kulturele aktiwiteite word sterk aangemoedig om beheer- en balansontwikkeling te bevorder. Vrywilligers bied sport- en kulturele programme aan, soos karate, tromspeel, drama, musiek, stoei, sokker, oefeninge en perdry. Die Kinderhuis hou 'n jaarlikse gesinsdag waartydens die kinders programme vir uitgenooide ouers en vrywilligers aanbied. 'n Konsert word ook aan die einde van elke jaar gehou en kinders word aangemoedig om hul talente daar asook tydens ander geleenthede by die Kinderhuis uit te stal.
'n Jaarlikse interne sportdag word gehou en die Kinderhuis neem ook aan die jaarlikse streeksportdag (die Sportdag vir Toekomstige Kampioene) deel waaraan 15 kinderhuise deelneem.
Gedurende toelating word daar van elke kind se geestelike behoeftes kennis geneem en die Kinderhuis streef daarna om in samewerking met ouers aan kinders die geleentheid te gee om aan die geestelike aktiwiteite van hul keuse deel te neem. Vanweë die kulturele diversiteit by die Durbanville Kinderhuis word kinders aangemoedig om hul individuele geestelike oortuigings uit te leef en aan geestelike aktiwiteite soos loof en prys asook evangelistiese aktiwiteite deel te neem.
Terapieprogram
Saam met terapeute en vrywilligers vorm die professionele personeel by die Durbanville Kinderhuis 'n veelterapiespan. Hulle evalueer en hanteer elke kind se emosionele behoeftes en deur voortdurende spanwerk tussen alle rolspelers word 'n konstante roetine geskep. Kinders ontvang terapie, berading en ondersteuning sodat hulle die trauma van gedisintegreerde en disfunksionele gesinsverhoudings kan hanteer.
Maatskaplike werkers, tesame met 'n multidissiplinêre span, stel vir elke kind 'n individuele ontwikkelingsplan saam, waarvolgens sy of haar ontwikkeling, sterk punte, belange en talente uitgelig en spesifiek ontwikkel word. 'n Model, gegrond op die kind se sterk punte, word toegepas om te verseker dat elke kind se potensiaal geïdentifiseer word. Die kind se vordering word deur middel van gereelde personeelvergaderings gemonitor en gevalle word in spankonteks bespreek, terwyl die ontwikkelingsplanne ook gedurende hierdie vergadering hersien word.
Die Durbanville Kinderhuis het twee gespesialiseerde terapieprogramme om die proses vaartbelyn te maak en te verseker dat elke kind individuele aandag ontvang:
- Die ART-eenheid (Assessments Reunification Therapeutic – evaluering, hereniging en terapie) is begin om te verseker dat omvattende evaluering, herenigingsgeleentheid en terapie vir alle kinders by die Kinderhuis beskikbaar is.
Evaluering: Die eerste stap in hierdie program is 'n vergadering tussen die ART-programkoördineerder en die maatskaplike werker wat die spesifieke kind na die Kinderhuis verwys het. By hierdie samekoms is dit belangrik om te bepaal of 'n verwysing na 'n kinderhuis die beste opsie vir die kind is en of ander opsies oorweeg moet word. Indien die kind in die Kinderhuis opgeneem word, skakel die programkoördineerder nou met die eksterne maatskaplike werker en, indien moontlik, met die kind se gesin. Dit word gedoen om te bepaal of die plasing geskik is. Geskikte terapieprogramme vir die kind word ook hiertydens geïdentifiseer.
Die gemiddelde duur van plasing by die Durbanville Kinderhuis is twee jaar. Daar is egter kinders wat hul hele kinderlewe by die Kinderhuis deurbring. As 'n kind onverwagte, afwykende gedrag tydens hul verblyf by die Kinderhuis toon, word hulle weer deur die Kinderhuis verwys na die ART-eenheid vir evaluering deur die Kinderhuis se maatskaplike werkers en die identifisering van geskikte terapeutiese ingryping. Dit geld ook vir kinders wat probeer om die Kinderhuis te verlaat sonder om deur die tersaaklike proses te werk.
Hereniging: Die ART-eenheid word ook gebruik wanneer kinders met hul ouers of versorgers herenig word. Ouers of versorgers word tuis deur die kind en 'n gesinsorgwerker besoek om hulle vir hereniging voor te berei. Sorgwerkers sal ook voortgaan om die huis ses maande na die hereniging van die gesin te besoek en leiding gee indien nodig. Die doelwit is om dié kinders wat 'n goeie kans staan om te herstel, ten volle met hul ouers, familielede of pleegouers te herenig. In ander gevalle word daarna gestreef om kinders deur intensiewe gesinsondersteuningstelsels en vennootskappe gedeeltelik te herenig. Met hierdie doel voor oë het die Durbanville Kinderhuis 'n voltydse gemeenskapswerker wat as 'n skakel tussen gesinne, 'n eksterne maatskaplike werker en die Kinderhuis dien.
Terapie: Maatskaplike werkers by die Durbanville Kinderhuis kan kinders wat intensiewe terapeutiese ingryping nodig het, na die ART-eenheid verwys. Studente wat tans met hul meestersgraad in maatskaplike werk aan die Hugenote Kollege besig is, fasiliteer die terapiesessies vir kinders tussen vyf en tien terwyl die programkoördineerder die psigoterapeutiese ingryping vir ouer kinders behartig. Lasgenoemde fasiliteer ook terapeutiese gespreksgroepe.
- Die CHILLI-eenheid (Care House for Individual Life Lesson Interventions – versorgingshuis vir individuele lewensles-ingrypings) is in die lewe geroep as 'n veilige en spesiaal beveiligde plek by die Durbanville Kinderhuis. Dit word gebruik vir terapeutiese ingryping by kinders wat middelafhanklik is, afwykende gedrag toon of net nie by die lewe in die Kinderhuis kan aanpas nie. Voor die eenheid begin is, was die enigste beskikbare plan van aksie om hierdie kinders na jeugsorginrigtings met strenger sekuriteit te verwys. Die CHILLI-eenheid verskaf 'n huisliker oplossing vir hierdie kinders. Die ART-eenheid verwys kinders na die CHILLI-eenheid en doelgemaakte groeiplanne met spesifieke doelwitte word vir elke kind ontwikkel. Een unieke aspek van die eenheid is die aanhou van diere op die terrein. Kinders by die CHILLI-eenheid is verantwoordelik vir die versorging van die diere aangesien dit 'n kalmerende uitwerking op problematiese gedrag het. Dit verbeter ook 'n kind se ontvanklikheid vir ander vorme van terapeutiese ingryping. Positiewe versterking vorm die fondasie van alle terapeutiese ingrypings by die CHILLI-eenheid. 'n Vaste roetine van skool, kunsklasse, handwerk, kosmaak, godsdienstige programme, terapiesessies, opvoedkundige groepsessies, tuinmaak en diereterapie word gevolg. Die CHILLI-programkoördineerder, tesame met kundiges van SANCA en die Loftdal-rehabilitasiesentrum, vergemaklik terapiesessies.
Gesondheidsorgprogram
'n Geregistreerde verpleegkundige by die Durbanville Kinderhuis gee raad oor alle eetplanne en spesiale diëte. Kinders kry drie gebalanseerde etes per dag asook 'n kospakkie vir skool. Spesiale diëte word ook opgestel vir kinders wat byvoorbeeld aan tuberkulose, wanvoeding of fetale alkoholsindroom ly (daar is tans 25 kinders by die Kinderhuis wat aan fetale alkoholsindroom ly).
Die Kinderhuis voorsien ook kospakkies gedurende die vakansietydperk aangesien sommige kinders vakansies saam met hul gesinne deurbring waar hulle in uiterste armoede leef.
Kinders by die Kinderhuis moet regeringsklinieke bywoon wanneer hulle siek is. Ongelukkig kan hierdie klinieke nie die Kinderhuis van genoeg medikasie voorsien nie en gevolglik moet pynstillers, hoesstroop, griepmedikasie en soortgelyke items by die Kinderhuis aangehou word. Kinders word op 'n daaglikse grondslag siek en in sulke gevalle moet die Kinderhuis se verpleegkundige hulle na óf 'n daghospitaal óf 'n kliniek vir geringe kwale of die plaaslike hospitaal vir ernstiger siektes vergesel. Die verpleegkundige vergesel ook kinders met chroniese siektes op hul gereelde kliniekafsprake en bestuur hul medikasie.
Die Durbanville Kinderhuis sien ook om na ontwurming, middelmisbruik-toetsing, gespesialiseerde tandheelkunde, ortodontiese behandeling en psigiatriese, psigo- en arbeidsterapie. Die Kinderhuis het ook na 'n kind omgesien wat ernstige brandwonde opgedoen het en spesiale mediese sorg nodig gehad het.
Stuur 'n e-pos aan bestuur@durbanvillekinderhuis.org.za vir nog inligting oor enige van hierdie programme.