Boeke en nogmaals boeke!

Die Durbanville Kinderhuis samel fondse in deur sy gehalte-boekverkoping elke Donderdagoggend van 10:00 tot 13:00 asook die eerste Saterdag van elke maand van 09:00 tot 14:00.

Boekliefhebbers en winskopiejagters kan hul verlustig in boeke teen baie redelike pryse. Daar is boeke in Afrikaans en Engels vir kinders en volwassenes. Kategorieë sluit in kookkuns, handwerk, tuinmaak, studiegidse, klassieke werke, Africana, handboeke, ensiklopedieë en nog vele meer. Tydskriftitels wissel elke maand. Daar is op die oomblik 'n groot verskeidenheid National Geographic-tydskrifte. Legkaarte, speletjies en video’s is teen weggeepryse beskikbaar.

As jy op soek is na 'n spesifieke boek, sal ons selfs probeer om 'n kopie vir jou in die hande te kry.

Skenkings van boeke wat in 'n goeie toestand is, is baie welkom. Van hierdie skenkings gaan ook na die biblioteek vir die 144 kinders wat by die Kinderhuis woon.

Vir nog inligting, kontak Johanna Strauss by jstrauss@durbanvillekinderhuis.org.za of 021 975 6822.