Kinders se aktiwiteite

Die span by die Durbanville Kinderhuis is terug na die vakansie en reg vir 2017. Soos altyd het ons reeds 'n hele paar projekte wat ons hierdie jaar wil begin. Ons eerste opwindende projek waarvoor ons fondse insamel is vir #teamDCH - ons kinders se hardloop groepie.

Soos baie mense weet is ons kinders baie lief vir hardloop en enige sports aktiwiteite. Ons het 'n groep van jong kinders wat saam met hulle maatskaplike werker, Jessica Johannisen, op Maandae en Woensdae hardloop. Gedurende 2016 was hierdie groep kinders baie toegewyd en het selfs aan twee "trail" wedlope deelgeneem.