skip to content
Subscribe to newsletter Borg 'n kind Jongste nuus Skenkings
Nalatenskap

Die opstel van 'n testament is 'n baie persoonlike proses en uit die aard van die saak kry familie en geliefdes voorkeur.

Dalk wil jy, soos baie ander, graag 'n liefdadigheidsorganisasie wat jy gedurende jou leeftyd ondersteun het in jou testament benoem. Dit is 'n unieke manier waarop jou oortuigings en hoop verder as jou eie leeftyd kan strek en so kan jy dalk selfs 'n groter bydrae as tans maak.

Erflatings aan liefdadigheidsinstansies is van belasting vrygestel en dus kan dit tot 'n besparing in boedelbelasting lei, sou jou boedel meer as R1 miljoen beloop.

Wanneer jy die Durbanville Kinderhuis in jou testament benoem, sal jou geskenk die Kinderhuis help om vir 144 kinders te sorg en jou nalatenskap sal 'n belegging in die toekoms van die kinders van Suid-Afrika wees. Nie net sal dit voorsien in praktiese dinge soos geboue en toerusting nie, dit sal ook 'n ewige herinnering aan jou goedhartigheid en barmhartigheid wees.

As jy 'n erflating of nalatenskap van liefde oorweeg deur die Durbanville Kinderhuis in jou testament te benoem, moet asseblief nie huiwer om ons vir nog inligting te skakel nie.

Soort erflatings

Die eenvoudigste vorm van erflating is om 'n bepaalde bedrag te spesifiseer. Om egter te verseker dat verdienstelike erflatings in verhouding tot ander erflatings bly, bemaak baie mense 'n persentasie van hul boedel aan die liefdadigheidsorganisasie van hul keuse. Opsies sluit die volgende in:

  • Benoem die liefdadigheidsorganisasie van jou keuse as 'n oorblywende begunstigde. Die liefdadig-heidsorganisasie ontvang dan die oorblywende gedeelte van jou boedel nadat alle ander erfgename hulle regmatige deel ontvang het.
  • Skenk eiendom soos 'n huis of ander eiendom, waardevolle oudhede of juweliersware, of aandele. Dit is net so welkom soos geldelike geskenke.
  • Teken 'n bestaande lewensversekeringspolis oor wat nie langer nodig is nie of neem 'n nuwe polis uit en benoem 'n liefdadigheidsorganisasie as die begunstigde.